Ons kyk hierdie week verder na die werking van die Heilige Gees in ons lewe. Kenmerke van die gemeenskap op hierdie stadium was eensgesindheid, mededeelsaamheid, samehorigheid en samewerking - alles deur die krag en uitstorting van die Heilige Gees.
Lees Handelinge 4:32-5:16, die storie van Ananias en Sapphira.
Dit is waarskynlik een van die ergste stories in die Bybel. Hoe het dit jou laat voel? Wat dink jy het Ananias en sy vrou gedoen wat so verkeerd was dat dit hul dood gekos het? Was dit omdat hulle nie vrygewig was nie? Was dit omdat hulle gejok het vir Petrus? Hulle het tog sekerlik die reg om hul geld te spandeer soos hulle wil en niemand was onder enige verpligting om met die ander te deel nie.
Was jy al in so 'n situasie?
Daar was 'n dieperliggende probleem en sonde met Ananias en Sapphira. Die groter probleem was dat hulle iets weggesteek het van hul mede-gelowiges, hulle was agter-af, het net aan hulself gedink en besig met hul eie agenda. Hulle het vir hulself gejok, vir die ander en vir God. Hulle het dus nie net gejok nie, maar hulle het ‘n valse beeld van hulself vir die gemeenskap gegee en op die ou end nie God se plan en roeping nagekom nie.
Om leuens te vertel om eer te ontvang, beteken eintlik dat jy nie God genoeg vertrou om die plan te laat werk nie... Klink dit soos iets waarmee jy kan vereenselwig?
Die Heilige Gees kom konfronteer ons met die waarheid, kla ons aan van die leuens in ons lewe. Hoekom? Hy wil ons nie in die moeilikheid laat beland nie, maar wil ons verlos en vry maak van die dinge wat verhoed dat ons in 'n oop en eerlike verhouding met God en ons medemens kan staan.
Lees 1 Korintiers 2:12-16. Wat sê hierdie gedeelte oor die Gees van die Waarheid? Wat beteken dit vir jou lewe? Hoe dink jy wil die Gees van die Waarheid vir jou kom raad gee?
Lees nou Johannes 8:32. Heilige Gees roep ons tot ‘n oop, eerlike verhouding en vryspraak in Christus! Watter leuens is daar wat die wêreld vir ons vertel waarvan ons moet vry kom? Watter leuens is daar wat jy vir jouself vertel wat verhoud dat jy 'n gesonde verhouding met jou medemense kan hê? En met God? Die Heilige Gees kom roep jou en wil jou daarvan vry maak!
'n Gesiene man het een keer voor 'n hele gehoor by die opening van die universiteit opgestaan en 'n koevertjie op die podium gaan neersit om te wys hy het genoeg geld om 'n reuse skenking te maak. Die dekaan van die universiteit het hom hartlik bedank by die funksie, maar aan die einde van die dag gesien daar is net 'n IOU-briefie binne-in die koevert. Die man het nooit sy deel gegee nie, al het hy voor almal aangedui dat hy 'n bydrae maak. Is ons nie partykeer ook so nie? Gee voor om iemand of iets te wees, maar bedrief onsself, ons medemense en ook vir God?
Die Heilige Gees roep jou om vry te raak van die houvas wat 'n wêreldse identiteit op jou het.
In die res van Handelinge is daar minstens drie geleenthede waar die apostels uit die tronk breek met die hulp van engele, die eerste hiervan in Handelinge 5. Dit is voorwaar 'n teken dat God wil hê ons moet weet dat wanneer ons Sy. wil volg, ons vry sal wees vir die werk waarvoor Hy ons voorberei.
Wees vir 'n slag eerlik met jouself... Wat is die wêreldse leuens wat jy al begin glo het... waarvan jy moet vry kom?
1. Is dit geld wat 'n houvas op jou lewe het? Dit was voorwaar so in Ananias en Sapphira se lewe!
2. Vergelyk jy jou met ander? Probeer jy soos ander wees?
3. Streef jy perfeksie na, eerste plek, net die beste? Leer jy dit vir jou kinders?
4. Het woede of haat vir jou medemens 'n houvas op jou lewe?
5. Dink jy goeie dade gaan vir jou in God se goeie boekies kry of in ander mense s'n?
Wie is die helde in jou lewe? Wat staan uit van die superhelde wat ons ken? Hul dade is dikwels nie omdat hulle iets moet doen nie, maar dit wat hulle bo-op en buite die normale doen. Hulle dink nie aan hulself nie, hulle is ten volle bewus van hul swakheid, hulle deel met ander en doen goed sonder enige verpligting. Vrywillig. Dis wat Christus, ons superhero, vir ons gedoen het!
Wat het jy al uit jou eie krag probeer vermag? Met watter gesindheid en houding, hartsoortuiging pak jy dinge aan? Een van die wêreld se leuens is dat ons dit op ons eie, uit ons eie krag moet doen. Dis nie waar nie! Ons het die krag van die Heilige Gees - dis die Gees van Waarheid! Glo Hom, kyk na Hom en kyk deur Sy bril na jou eie lewe!
'n Ware held is iemand wat bewus is van sy swakheid en dan daaraan aandag gee - die wêreld kort meer sulke helde.
Hou op jok vir jouself dat jy alles onder beheer het. Hou op voorgee, God gee vir ons die Heilige Gees om op te hou jok en in die waarheid te lewe! Hou op vashou aan die dinge wat jy dink vir jou identiteit gee. Kry jou identiteit by Christus, wat jou lewe wil vul met die werklike waarheid.
BID VIR:
Genesing van die pyn en hartseer wat ons leuens veroorsaak in ons eie lewe, die lewe van die gemeenskap en ons verhouding met Christus.
Dankie dat die Heilige Gees ons roep tot oop en eerlike lewens!
Amen.