Lees hierdie teksgedeelte aandagtig deur. Dit is Paulus se laaste woorde aan die gemeente van Efese voordat hy op 'n skip na Jerusalem vertrek, so dit is 'n belangrike opsomming van sy verstaan van die evangelie. Wat staan vir jou uit in hierdie gedeelte? Wat maak nie sin nie? Wat klink bietjie verwarrend?
Dit is duidelik dat Paulus 'n leefwyse beskryf wat radikaal anders is as die norm. 'n Lewe wat kenmerkend uitstaan tussen die res. Amper verkeerdom!
As jy weer die teksgedeelte lees, sien jy nederigheid te midde van droefheid (vers 19), niks terughou in 'n kultuur waar almal skinder (vers 20), waarheid te midde van leuens en halwe waarhede, nie bang vir vervolging wanneer mense vrees om risiko's te neem, aanhou werk en praat wanneer mense lui en stil raak...
En seker die moeilikste een in vers 35: "Om te gee is beter as om te ontvang." Wat beteken dit vir jou?
Het jy al ooit jou klere verkeerdom gedra, dat die "labels" wys? Probeer dit bietjie vir 'n dag en kyk of iemand agterkom. Jy sal virseker uitstaan!
Toe Paulus se lewe op die pad na Damaskus radikaal verander is, het sy lewe ook 'n 180 grade draai in die ander rigting gemaak. Hy was dieselfde mens, maar hy het sy talente, gawes, menswees "anders-om" gebruik.
Dit wat nou binne-in hom was het uitgeloop na buite. Sy gesindheid het verander om op "ander" te fokus - anders-om.
Lees 2 Korintiers 8:1-15. Watter woorde staan vir jou uit in hierdie teks? Hoe sal jy die gemeenskap van Korinte beskryf? Hulle was baie arm, maar hulle was bly. Hulle is nie gevra nie, maar het aangebied. Kan jy sien wat gebeur met hulle? Al het hulle nie baie nie, smeek hulle Paulus om te kan gee!
Hulle is so blymoedig, want hulle het iets gekry wat hulle met die wêreld kan deel - genade onverdiend!
Die Bybel praat van Vrygewigheid. Wat verstaan jy onder vrygewigheid?
As jy die storie van die muntstukke lees in die Bybel (Lukas 19), hoe help dit jou om vrygewigheid te verstaan?
Lees ook Matteus 7:7-12. Hoe pas dit by vrygewigheid in? As ons vrygewigheid hoor, dink ons onmiddellik aan geld. 'n Ma hoor waarskynlik heeldag sy moet net gee en gee van haarself, of die kerk vra dat jy vir die armes moet gee.
Die Griekse woord haplotes verduidelik egter dat vrygewigheid eerder verwys na eerlikheid, openlikheid, integriteit, geen pretensie, geen beperking, "no strings attached", sonder bybedoelings.
Dit beteken om vry en oop te kan lewe voor ander - "what you see is what you get" - om nie terug te hou op die kennis, passie, talente, gawes en genade wat God vir jou gegee het nie! Lewe met 'n oop hart...
Wie hier is bly vir wat Christus vir jou gegee en gedoen het? Regtig? Nou leef dan met 'n blymoedigheid! Meer as die geld waarmee jy mense kan seen, kan jy hulle seen met Christus, met wat Hy vir jou kom doen het en steeds doen.
Wat het jy nou hier wat jy vir mense kan bied? Wat van jou menswees in Christus kan vir hulle tot voordeel wees? Meer as net gee, moet jy begin wees wat jy graag sou wou ontvang.
As jy wonder hoekom jou vriende so op 'n afstand is, moet jy dalk probeer om bietjie broos voor hulle te wees... wees die tipe vriend wat jy soek. As jy genade in jou verhouding kort, wees dalk bietjie genadig jouself.
Lees Spreuke 11:24-25. Hoe kan jy "anders-om" leef en mense in moeilike tye seen met Christus se teenwoordigheid?
Hoe is dit moontlik vir ons om "anders-om" te leef? Met ons harte na buite? Hoe kan ons vrygewig wees met ons komplimente, ons woorde, ons ondersteuning, ons dade, ons besittings, ons passie, ons dryfkrag, jou kinders, jou werk, jou huwelik?
Want dit behoort alles aan Christus. Dis nie joune nie, jy is net die bestuurder daarvan - jy geniet bloot die vreugde wat dit vir ander mense bring as 'n byproduk, want Christus is alles vir almal en Hy is in jou.
Daarom moet ons ophou om so "needy" te wees... so te klou of so na binne te leef... God het vir ons vrylik gegee om vrylik uit te deel!
Lees Romeine 12:3-8. Hoe kan jy hierdie beginsels uitleef in jou huis? By jou werk? In die kerk?
Paulus smeek nie die mense om te gee nie. Die wêreld smeek ons om te gee. Maar wat gee jy? Meer as jou besittings, jou tyd en geld? Gee jy Christus en 'n blymoedigheid in Christus?
Dit is wat vrywilligheid beteken. Om op te hou om selfies te neem van ons eie lewens, maar om die kamera om te draai en anders na die lewe te kyk.
BID:
As jy nog sukkel om te gee, met 'n blye hart, uit vrye wil, vra dat Christus jou lewe kom verdiep met Sy lewende water. Dop hierdie week jou klere om en begin "anders-om" leef sodat mense Christus in jou kan sien.
Amen.