Ons sluit vandag die reeks oor Jesus se gelykenisse af met ‘n kykie na drie kort gelykenisse. In al die stories waarna ons gekyk het, kry ons die kontras tussen twee koninkryke – die realiteit waarin ons nou lewe en die realiteit van Jesus se ewigheid. Met gebruik van alledaagse voorbeelde en situasies, verduidelik Jesus dat ons kan uitsien na die ewigheid, maar dat dit nou reeds ‘n reaksie van ons vra.
Lees saam Matteus 13:44-50.
Wat het hierdie drie stories met mekaar in gemeen? Hoe verskil die drie stories van mekaar?
Die eerste storie is van ‘n man wat op ‘n skat afgekom het, heel toevallig, maar toe hy die waarde daarvan besef, het hy alles in sy vermoë gedoen om dit nie te verloor nie. Hy was bereid om alles te verkoop, net om dit nie te verloor nie.
Die tweede storie is van ‘n man wat op soek was na ‘n baie waardevolle pêrel wat die moeite werd sou wees. Toe hy dit uiteindelik vind, was hy ook bereid om alles te verkoop om dit te besit.
Dit maak dus nie saak hoe ‘n mens by die evangelie uitkom of wanneer Christus deel raak van jou lewe nie, maar of jy die waarde daarvan besef en hoe jy daarop reageer. In beide stories is daar geen twyfel by die persone dat hulle alles moet gee nie - en hulle gee dit met oorgawe en vreugde!
Dink ons nie hoe meer ons gaan bereik of doen, hoe gelukkiger gaan wees of hoe meer vreugde gaan ons eendag in die hemel ervaar nie? Nee, die vreugde is eerste daar, en daarna die moeite en opoffering, want dan is dit met 'n blye hart.
Besef jy dat om Christus nou reeds in jou lewe te hê, reeds ‘n stukkie van die hemel op aarde vir jou oopmaak? Ons kan nie in die verlede of in die toekoms lewe of uitsien na die ewigheid sonder om nou reeds opgewonde te wees en volgens God se wil te lewe nie.
Die vraag is nie wat jy moet gee of opoffer of hoeveel dit van jou vra om ‘n Christen te wees nie... die vraag is eerder of jy besef hoe waardevol die skat is wat jy ontvang het... want dan is die opofferings wat jy moet maak dubbeld die moeite werd.
Het jy nou N$300 000? Party van ons sal sê “nee.” Party sal eers wil weet waarvoor. Wel, as dit vir ‘n baie duur motor is wat eintlik meer as ‘n miljoen kos, sal ons ewe skielik bereid wees om die geld bymekaar te maak of uit te haal.
Hoekom? As jy regtig die waarde van iets besef, of dit baie graag wil hê, sal dit nie te veel moeite wees vir jou om te betaal nie. Jy doen dit met ‘n glimlag.
Lees Filippense 4:7-8. Hoe klink Paulus se gemoedstoestand vir jou?
Dit klink of hy baie moet verloor of prys gee, maar dit klink ook nie of dit vir hom so moeilike besluit is nie. Hy doen dit selfs met ‘n blye hart.
Net so, is daar sekere goed in jou lewe wat nie die moeite werd is nie. Dit is nie die moeite werd om sekere situasies te ondersoek of uit te toets nie. Dis nie die moeite werd om met sekere persone te redeneer of te baklei nie.
Kan jy dink aan areas van jou lewe wat eintlik nie die moeite werd is nie?
En watter areas van jou lewe is die moeite werd om meer tyd aan te spandeer, meer te investeer? As dit vir jou die moeite werd is, sal jy tyd maak daarvoor! As dit die moeite werd is, sal jy dit prioritiseer!
Die realiteit van twee koninkryke is dat daar ‘n dag gaan kom wanneer God die visnet gaan uitgooi, die koring van die onkruid gaan skei. Dis ‘n saak van lewe en dood. Wat kies jy? Hoe reageer jy daarop? Opgewonde oor die lewe... of beangs vir die dood?
Dit beteken jy staan of onder die heerskappy van God of onder jou eie leierskap. As jy die waarde van God se heerskappy werklik besef, sal jy alles verkoop en trek. Jy kan nie op die draad bly sit nie.
Is daar sekere areas in jou lewe waar jy nog nie volkome aan Christus oorgegee het nie? Is daar sekere areas waar jy nog ietsie wil terughou?
Dalk het jy iets waarvan jy moet bekeer op hierdie oomblik en tyd. God vra nie noodwendig hoe lyk jou geskiedenis of wat het jy bereik of wat wil jy eendag word nie... elke dag is ‘n nuwe geleentheid om voluit vir Christus te lewe.
Hoe moet jy lewe lyk as jy by die wins van Christus aan die einde van jou balansstaat wil uitkom?
Wat is die moeite werd en wat moet jy liewer los om jou heiligheid te behou? Dalk moet ons almal vandag bekeer dat ons nie met genoeg oorgawe ons huidige lewe en geleenthede aanpak nie. Ons is nog besig om somme te maak en te oorweeg...
Lees Matteus 7:6. Wat beteken hierdie vers vir jou?
Dis ‘n saak van lewe of dood – of jy doen dit, of jy doen nie. Of jy glo, of jy glo nie. Of jy aanvaar die Bybel, of jy doen nie. Of jy gee jou lewe, of jy gee nie.
Dis alles of niks.
Amen.