Verlede week het ons die sessie met die vraag geëindig...
Ons moet 2 goed verstaan sodat ons kan weet hoe ons aktief die keuse kan maak om daagliks onder die leiding van die Heilige Gees te lewe.
Lees 1 Korintiërs 12:12-19 & 27-31 saam deur.
Gesels oor die goed wat vir jou uit staan in hierdie teks gedeelte.
Kyk ook na die goed in die teks gedeelte waaroor jy dalk vrae het, en gesels daaroor.
(1 Kor 12:13) "13Omdat ons almal een liggaam geword het, is ons almal met die een Gees gedoop, of ons nou Jood of Griek is, slaaf of vry. Ons is almal van die een Gees deurdrenk."
Wat beteken dit?
Op Pinksterdag is die Heilige Gees eens en vir altyd aan die kerk gegee.
Waarom? Sodat elke mens – deur alle eeue heen – wat tot geloof en bekering kom, onmiddellik, ten volle, in die volheid van die Heilige Gees deel kry.
Dít is die doop met die Heilige Gees. Dit behels die ontvangs van die Heilige Gees.
En, wanneer gebeur dit? Eers 2 jaar nádat jy die Here leer ken het?
Wanneer is dit? Die oomblik wanneer jy tot geloof en bekering kom. Die tyd van my geloof in die evangelie is óók die tyd van die doop met die Gees. Dán word jy die tempel van die Heilige Gees. Die inwoning van die Heilige Gees is werklik die deel van álle gelowiges.
Lees Romeine 8:9-11 saam deur.
Wat staan vir jou uit in hierdie teks gedeelte?
Ek is gedoop met die Heilige Gees. Dit beteken: Ek hét Hom werklik ontvang. Hy het mý ontvang. Ek is deurdronge van Hom.
Is jou ervaring dat jy deur die Heilige Gees gedoop is?
Dalk beséf ek dit nie regtig nie. Dalk leef ek nie daaruit nie. Dalk twyfel ek daaraan. Dalk leef ek ongehoorsaam. Dalk akkommodeer ek allerlei onreinheid.?
Nee! Ek moet besef en ontdek en glo wat ek reeds het en ophou om in ongeloof te leef. Ek moenie sit en wag vir ‘n groot gebeurtenis totdat ek ook ‘n gawe ontvang nie. Begin leef uit wat jy ontvang hét! - Begin leef uit die leiding van die Heilige Gees!
Maar... Hoe doen ons dit?
Elke gelowige het reeds die volheid van die Heilige Gees ontvang. Met dit in gedagte, kyk saam na die 2de deel...
DOOP met Heilige Gees = Ontvang Hom in jou lewe.
VERVUL met Heilige Gees = Lééf doelbewus vanuit Sy volheid.
DOOP moet dus onderskei word van VERVUL.
Waarom? Omdat die Bybel daarvan praat dat mense wat reeds kind van God is, dus gedoop is deur Heilige Gees, nie noodwendig vervul is nie.
Lees Efesiërs 5:18.
Kyk mooi na die beeld wat Paulus gebruik: “Moet julle nia aan drank te buite gaan nie...” M.a.w. moenie onder drank se invloed kom nie, maar kom onder die invloed van die Heilige Gees. Dis ’n bevel en iets wat daagliks moet gebeur.
Hier word dus van ‘n ander aspek van die werk van die Heilige Gees gepraat: vervulling.
Wat sou dit kon beteken? Definitief nie iets wat net eenmalig plaasvind nie. Die werkwoord (Grieks) dui op 'n aanhoudende handeling. Dus: Paulus sê: “Laat julle voortdurend vervul...”
Dit is ook duidelik ‘n opdrag wat aan die gelowige gegee word.
Dit is die Gees wat dit doen, maar nogtans het die gelowige die verantwoordelikheid om nie die werk van die Gees te blokkeer nie. Gehoorsaamheid word gevra.
-Ek is 100% ‘n gelowige, ek is gedoop deur Gees, maar ek besit nie die Heilige Gees ten volle nie. Slegs gedeeltelik.
-Ek het nie die volheid van die Gees nie. Daarom is my geestelike lewe so traag.
-Daarom swig ek so maklik voor versoekings.
Wat ek nodig het, is ek moet vervul word en dus vol raak van die Gees.
Hier is 'n paar aksiestappe om te volg...
Vervul beteken egter nie “vol word” nie. Paulus praat met die gelowiges in Efese in wie se lewens die Heilige Gees rééds woon – omdat hulle die Here reeds ken (gedoop met Gees).
Die Persoon van die Heilige Gees woon ten volle in hulle. Maar: Nogtans beveel Paulus hulle dat hulle vervul moet word met die Gees. Nou wat op aarde sou dit kon beteken?
As dit nie beteken dat ék meer van die Géés moet kry nie, wat beteken dit dan?
Dit beteken: Die Gees moet meer van mý in die hande kry! Die Persoon van die Heilige Gees woon ten volle in my, maar die vraag is: Hoeveel van my is onder Sý invloed? Hoeveel van my staan onder die Woord (want die Gees werk deur die Woord)? Hoeveel dinge akkommodeer ek in my lewe wat die werk van die Gees blokkeer en Hom bedroef?
Wanneer ’n mens doelbewus ontslae raak van dinge in jou lewe wat die Gees bedroef en jy onderwerp jou aan die Woord en jy glo dat Jesus al jou sondes op Homself neem en aan jou die seën gee wat Hom toekom – dan leef jy onder die Gees se invloed.
Wat is die vervulling?
Meer van die Gees kry? Nee... Hy moet meer van my kry!
Hoe? Eenmaal en klaar? Nee: Daagliks.
Hoe? Deur myself weg te gee en myself doelbewus onder Sy beheer te plaas.
En die gevolg? Hy sál definitief Sy invloed begin uitoefen.
Lees weer 1 Korintiërs 12:27-31 saam deur.
Vra nou weer die vraag waarmee ons begin het...
Gesels nou met mekaar oor hoe ons daagliks hierdie keuse kan maak om onder die leiding van die Heilige Gees kan leef.
Lees Romeine 8:12-17 saam deur...
Ons is reeds deur die Heilige Gees gedoop.
Ons moet daagliks by die Here uitkom om vervul te word met die Heilige Gees.
Kom ons leef deur die leiding van die Heilige Gees.
Bid saam.