Lees 1 Tessalonisense 2:1-13; 17-20.
Wat merk jy op van Paulus se gesindheid, sy houding en sy gevoel teenoor die mense van Tessalonika? Lees weer vers 9-11. Wat sê hierdie woorde van Paulus vir jou?
Paulus is selfversekerd en byna bietjie vol van homself! Tog inspireer hy die mense rondom hom. Daar is iets wat Paulus het gemaak het dat hy 'n inspirasie vir mense rondom was.
'n Opregte, eerlike en diep liefde vir mense. Lees weer vers 17-20.
Wat is vir jou interessant in hierdie gedeelte? Paulus voel dat sy werk vir Christus nie voltooi sal wees voordat die mense nie uit vrye wil geinspireer is om God te volg nie.
Vandag se "influencers" op sosiale media is vol van hulself. Hulle tree so op dat ons hulle slaafs wil navolg, uit eie keuse. Paulus is ook so, maar die verskil is dat hy nie vol van homself is nie, maar gevul met die Heilige Gees.
Die Heilige Gees maak dat hy met selfvertroue kan uitgaan en lief wees vir die mense wat hom nie goedkeur, verwerp, vervolg of selfs haat.
Paulus het die Goeie Nuus versprei en verkondig, maar daar was baie mense wat dit nie aanvaar het nie.
Baie mense het nog steeds nie verander nie. Paulus se invloed was nie as gevolg van wat hy geweet het, of gesê het of gedoen het nie, maar as gevolg van die Heilige Gees wat hom gevul het en hom 'n liefde laat uistraal het net soos Jesus.
Jesus het ons eerste liefgehad, nog voor ons iets bereik het. Net so, moet ons ook liefhê sonder om vas te kyk in die menslike foute en gebrokenheid. Lees Markus 12:30-34. Wat beteken dit vir jou om God met jou hele wese lief te hê? Beteken dit ook dat ons vir ander moet liefhê?
Hoekom dink jy het God nie al die brandoffers van mense in die Ou Testament aanvaar nie? Ons doen dalk dieselfde goeie werk, maar God soek jou hart en daarom moet jy jouself afvra of jy dit met die regte gesindheid doen.
Wie is daar in jou lewe wat jy tans sukkel om lief te hê? Hoe hanteer jy julle in jou lewe? Hoe dink jy kan jy anders met hul werk?
Lees Hebreers 10:22-25. Watter woorde staan vir jou uit in hierdie teks? Hoe kan jy die Heilige Gees vra om jou hiermee te help?
Die Bybel praat van 'n geestelike oorlog - dink jy nie ons kan hierdie oorlog teen mekaar ook op 'n geestelike vlak oorkom nie? Dink aan maniere hoe jy mense rondom jou kan aanspoor/ aanmoedig/ inspireer tot liefde en dade met die manier waarop jy jouself handhaaf.
Ons lewe dikwels 'n vol lewe. Ons probeer soveel klippe in 'n houer pak as wat ons kan en dink dan ons het 'n vol en gelukkige lewe gelei.
Sonder die Heilige Gees wat daardie gaping van liefde in ons lewe kom vul het ons nog nie oorgeloop tot 'n geesvervulde, 'n heelhartige lewe nie.
Sou jou baas tevrede wees as jy iets net halfhartig doen? Sou jy 'n medalje kry as jy net halfpad die resies hardloop? Moet ons nie ook in ons Christenskap en geloof 'n heelhartige benadering hê nie?
Hier is paar maniere waarop jy kan plek maak vir die Heilige Gees se liefde om jou te vul sodat jy 'n meer geesvervulde lewe lei as net 'n vol lewe. Hierdie is maniere hoe jy 'n invloedryke persoon kan wees en 'n inspirasie vir mense sonder die prestasies wat ons dink ons moet doen.
1. Kweek egtheid. Wees jouself. Mense word inspireer deur 'n opregtheid en eerlikheid.
2. Self-vergifnis. Aanvaar dat jy nie perfek is nie en wees bewus van jou tekortkominge, maar wees lief vir jouself, vergewe jouself.
3. Veerkragtigheid. Moenie lamgelê wees deur teenkanting of mense wat nie van jou hou nie. Staan op, gaan aan en hou aan om lief te wees.
Eddie the Eagle was 'n vrot skiër, maar hy wou graag aan die Olimpiese Spele deelneem. Aangesien Brittanje in 1988 geen ski-springers gehad het nie, het hy besluit om daardie item te doen. Hy was dus outomaties die land se beste. Hy kom laaste, ver laaste op die Olimpiese Spele, maar hy inspireer ander omdat hy sy droom nagevolg het. Sedertien is die reels verander by die Olimpiese Spele as gevolg van hom en het hy steeds die fakkel by latere Olimpiese Speles gedra. Hy was 'n inspirasie omdat hy nie opgegee het nie, nie bang was vir wat die mense gaan sê nie. Lees sy storie hier: https://en.wikipedia.org/wiki/Eddie_the_Eagle
4. Dankbaarheid en Vreugde. Tel jou seeninge, wees bly, geniet wat die Here vir jou gee. Leef dit uit.
5. Neem risikos in geloof. Wees soos Eddie the Eagle. Lees 1 Joh 4:13-21. Selfs al is jy bang, weet jy dat as jy dit uit liefde doen, Christus se liefde vir jou, sal Hy by jou wees.
6. Balans tussen werk en speel. 'n Heelhartige persoon werk homself nie in die afgrond in nie. Dit gee nie eer aan Christus nie. Christus soek 'n vervulde persoon - dis die beste geskenk wat ons vir iemand rondom ons kan gee.
7. Betekenisvolle diens. Gebruik jou gawes en talente - eerder as om iets te doen omdat jy dit moet doen, doen iets omdat jy dit wil doen en kan doen.
AMEN.