Ons is besig met ‘n reeks oor kruiswoorde.
Lees Lukas 23:32-43. Wat staan vir jou uit tussen die misdadigers en Jesus tydens die kruisiging? Hoe het die twee misdadigers se gedagtes, woorde en dade van mekaar verskil?
Ons kernteks is vers 42-43.
Die een misdadiger besef dat hy in die teenwoordigheid van Jesus die Verlosser is. Hy is ‘n armlengte van die Redder af en dit vul hom met ontsag, berou en hy maak die beste gebruik van die geleentheid om ‘n verhouding met Jesus aan te knoop. Hy besef in sy ellende dat daar nuwe lewe en hoop is in Jesus Christus.
Carpe Diem. Savour the moment. Dit beteken om intensioneel die positiewe in ‘n situasie te beleef. Die misdadiger se lewe staan op ‘n einde, maar hy reik uit na Jesus.
Het jy al opgelet hoe mense in ‘n slegte situasie dit net erger maak met die manier waarop hulle doen en dink? Dit is juis die tyd wanneer ons op die positiewe moet fokus!
Wanneer laas was jy op ‘n lekker vakansie? Vakansies kan baie dikwels heel verkeerd uitdraai.
Party mense is al van die eerste dag van die vakansie beangs dat dit binnekort gaan eindig en mis so uit op spesiale oomblikke. Ander mense vat hul werk saam op vakansie en tik eposse langs die swembad of doen hul beplanning vir die volgende week en geniet nie ten volle die oomblik waarin hulle hulself bevind nie.
Dink maar aan ‘n belangrike sport wedstryd. Partykeer wil ons net hê dit moet verbygaan sodat ons na die volgende rondte kan deurdring, maar ons mis die oomblik om die gras te ruik, ons spanmaats se gesigte te beleef en die spesiale oomblikke in die wedstryd te beleef.
Kinders wil dikwels so gou grootword en mis uit op die spesiale tyd van kindwees.
Kan jy aan nog situasies dink waar jy dalk uitgemis het op spesiale oomblikke omdat jy te besig, te haastig of te negatief ingestel was?
Sedert die Ou Testament probeer mense die regte goed doen om in God se “goeie boekies” te kom. In die Nuwe Testament ontdek ons dat dade ons nie in die hemel gaan kry nie, maar slegs geloof in Jesus Christus. (Lees Galasiërs 3:10-15)
Is geloof genoeg? Wat beteken dit om regtig in God drie-enig te glo? Geloof is meer as dade en ‘n mooi lewe – dit vra ‘n verhouding met Jesus Christus.
Jesus nooi die misdadiger na die paradys. Paradys is gewoonlik ‘n idilliese, ideale plek of toestand waarna ons uitsien. Dink maar aan ‘n eksotiese eiland. Dalk is dit vir jou alleentyd iewers op ‘n stil plek. Dalk is dit wanneer jy vir ‘n slag ‘n goeie nagrus kan beleef! ‘n Plek van konstante geluk, liefde, vreugde.
In die Bybel verwys die paradys dikwels na ‘n tuin (soos die tuin van Eden) en die hemel.
Wonder jy hoe om in die hemel te kom? Wonder jy waar die hemel is? Wonder jy wanneer ‘n mens hemel toe gaan en of die misdadiger reguit hemel toe is?
John Piper, ‘n bekende teoloog vra die belangrike vraag: The critical question for our generation—and for every generation—is this: If you could have heaven, with no sickness, and with all the friends you ever had on earth, and all the food you ever liked, and all the leisure activities you ever enjoyed, and all the natural beauties you ever saw, all the physical pleasures you ever tasted, and no human conflict or any natural disasters, could you be satisfied with heaven, if Christ were not there?
Paradys is ‘n mooi plek waar alles werk, maar dit beteken niks as God nie daar teenwoordig is nie. Jesus nooi die misdadiger om saam met hom na die paradys te gaan, maar hy is reeds daar omdat hy vir Jesus Christus in sy lewe toelaat.
Wat beteken dit vir jou wanneer dit sleg gaan in jou lewe? Wat beteken dit as dit goed gaan met jou lewe? Wat beteken dit as jy iets verkeerd gedoen het?
Hoe dikwels probeer ons nie om ‘n paradys vir ons op aarde te skep nie? Alles moet mooi en goed en reg wees, meer besittings, meer sukses, net voorsped... maar die paradys is daar waar God is... ook in die slegte tye en die tye wanneer ons verkeerd is.
Hoe baie verlang jy na die paradys? Hoe baie dink jy aan die paradys? Ons moet daagliks na die paradys verlang en daarna uitsien, dan sal ons huidige probleme meer draaglik wees en ons selfs die lewe wat ons nou het kan geniet.
God het ons die lewe gegee om te geniet, hier en nou, en die beste daarvan te maak, want dis oppad na die paradys. As ons die volle glorie van die paradys wil beleef, moet ons nou reeds geniet, verduur, uithou en bou.
Beide die misdadigers en Jesus het die dood in die gesig gestaar. Een van hulle het niks gehad om na uit te sien nie, want hy het alles self probeer beredder. Die ander misdadiger, en Jesus, het uitgesien na iets beters.
Mag dit jou hoop gee!
Gaan die Here jou onthou as jy nie ‘n verhouding met hom aangeknoop het nie?
Maak vandag nog daardie knoop vas – Hy is hier in die nou sodat jy reeds ‘n stukkie paradys kan beleef!
BID SAAM:
Here
Ek bekommer my omdat ek u wysheid vergeet
Ek voel skuldig omdat ek u genade vergeet
Ek is jaloers en ek begeer omdat ek u skoonheid vergeet
Ek doen sonde omdat ek u heiligheid vergeet
Ek is bang omdat ek u grootheid vergeet
Maar dankie dat u my altyd onthou. Help my om u te onthou
AMEN.
Ons begin met ons reeks oor die Kragtige Kruiswoorde wat Jesus aan die kruis gesê het.
Hierdie week se Kragtige Kruiswoord: VERGIFNIS
Vergifnis is een van die dinge wat ons as volgers van Jesus baie goed weet word van ons verwag.
Maar dit is so moeilik om iemand werklik te vergewe wat iets teen jou gedoen het, veral as jy dit nie verdien het nie.
Bespreek met mekaar tye in jou lewe waar jy al iemand vergewe het.
Was dit moeilik gewees?
Hoe het jy dit reg gekry?
Om in onvergifnis te loop is 'n groot skeiding in verhoudings.
Dink jy dit is belangrik om mense wat teenoor jou opgetree het te vergewe?
Wat is die vrae wat by jou opkom wanneer jy oor vergifnis dink?
Lees Esegiël 33:11 saam deur.
Bespreek God se genade met mekaar.
Lees Galasiërs 6:7 saam deur.
Lees nou Nahum 1:3.
Om vergifnis reg te verstaan, moet ons die realiteit van ons sonde besef.
Sonde – maak van ons vyande van God!
Ons het dus `n God wat aan die een kant uit genade wil vergewe, maar wat aan die ander kant ook in Sy regverdigheid die sonde wil straf.
Dus stuur God Sy Seun...
Bespreek Johannes 3:17 met mekaar.
Bespreek die volgende teks gedeeltes met mekaar.
Wanneer jy dink aan hoe moeilik vergifnis vir ons is, besef dat die basis van vergifnis God se vergifnis aan ons is.
Hoe kan ons hierdie voorbeeld wat Jesus vir ons koom wys het uit leef?
Lees en Bespreek die volgende teks gedeeltes.
Mag ons besef dat ons nie uit onsself uit altyd kan vergewe nie, maar dat ons deur God se genade en Sy regverdigheid, en deur Jesus se voorbeeld van vergifnis kan vergewe.
Ons is nog steeds besig met ons reeks oor wonder werke. Hierdie week kyk ons na hoe Jesus ʼn Kreupel man genees by die bad van Betesda. Johannes 5:1-18.
Lees Johannes 5:1-18 nou deur. Wat let jy op tussen Jesus se interaksie met die kreupel man en dan die ander mense se interaksie met die kreupel man?
In vers 1-3 sien ons ʼn beskrywing van waar die wonderwerk geskiet het. In Jerusalem was die plek gevind. Wat beteken dit vir jou dat die Bybel nie net geïnspireer is nie, maar ook histories akkuraat, help dit om sekerheid te vind in wat ons in die woord lees?
Betesda is ʼn Hebreeuse woord wat beteken ‘huis van genade’. Wat dink julle het die kreupel man gesoek by so plek en hoe dra dit by tot wat Jesus kom doen het?
Lees nou vers 5-9.
Ons sien die man is al baie lank siek, waarskynlik langer as wat party mense destyds gelewe het. Hoekom vra Jesus dan vir die man of hy gesond wil word as Jesus geweet het hoekom die man daar lê?
Kon dit dalk wees dat die man eers weer moes begryp waar hy is om meer bewus te kon wees waar sy tekort is en waarvan Jesus hom wil red?
Waar in ons lewens sit ons dalk vas? Vra Jesus dalk vir ons dieselfde vraag vir dieselfde rede?
Let dan op hoe eenvoudig en effektief Jesus se antwoord aan die man is. Sy boodskap is vir ons dieselfde. Ons moet glo dat Jesus dood gegaan het en op gestaan het vir die totale versoening van ons Sondes, en dan ons sondes voor Hom bely, dan sal ons gered wees.
Is daar ʼn parallel wat getrek kan word tussen Jesus se interaksie met die man en hoe ons gered word?
Lees nou verse 10-13
Waarna kyk die Jode en waarna kyk die man wat genees is? Vir wie luister die man in die geval? Staan hy op en loop van waar hy was of gaan sit hy weer?
Ons word ook geroep tot daardie selfde gehoorsaamheid, om vir God te luister wanneer Hy ons red uit ons situasies.
Lees nou vers 14
Is dit moontlik dat die man se kondisie as gevolg van sy sonde was? Plaas ons onsself ook partykeer in plekke waar ons nie wil wees nie en waar ons swaarkry?
As ons Kyk na die voorheen kreupel man se storie, waar hy so naby aan genesing lê, maar steeds na 38jaar niemand hom ʼn tweede gedagte gegee het en gehelp het nie, wat sou erger kon wees as sy kondisie waaruit hy gered was?
Ongelukkig werk dit met die mens so dat as ons uit ʼn slegte posisie gehelp word ons maklik daarin weer kan terug val, dus gee Jesus hierdie waarskuwing om nie weer te sondig nie. Jesus doen dit, want die een ding wat erger as enige iets is, is om verewig van die heerlikheid van God te ontbreek. Met ander woorde om in die hel te beland. Dit is die waarskuwing wat Jesus hier gee.
Lees nou vers 15-18
Hoe moet ons persepsie van Jesus dalk verander, wie is Hy vir ons op die oomblik? Sien ons Hom vir wie Hy is, werklik gelyk met God?
As ons die lyn van die storie volg, vers 1-18, wat kan ons dalk raak sien?
Hierdie kreupel man is opsoek na iets, na iemand. Hy is opsoek na genesing en genade en dit sekerlik maar vir God. In sy soeke en verlang kom ontmoet Jesus hom. Jesus verander sy lewe, maar hy ken Hom nog nie. Hy gaan soek dan by die tempel, die huis van God. Daar ontmoet Jesus hom weer en herinner hom van wat Hy gedoen het en waarsku hom dan teen die effek van sonde. Die man gaan dan en getuig en volg die een wat Hom gered het.
Die wonderlike ding van Jesus is, dat soos God, Hy nooit sluimer nie. Hy steek altyd ʼn hand uit om ons te kry nes ons is waar ons is. Die wonderlike ding is dat Hy ons nooit los soos ons was waar ons was nie.
Bid nou saam en as jy bietjie alleen is wees eerlik met Jesus oor waar jy is en laat hom jou daaruit red. Volg Hom dan met jou hele hart en volhard in jou geloof.
Lees Markus 6:30-44. Dit is 'n bekende storie, maar wat staan vir jou weer nuut uit? Het jy agtergekom hoe baie mense daar was en ook hoe baie kos daar was? God se uitkyk was nog altyd een van oorvloed. Kan jy aan voorbeelde hiervan in die Bybel dink?
In Genesis skep God die aarde met oorvloedige hulpbronne en Sy opdrag is om dit te vermenigvuldig. Sy seeninge is bedoel om gedeel te word - sodat almal dit kan geniet en deel kan hê.
Droom jy van 'n beter lewe? Meer geld? Meer hulpbronne? Verhoogde status? Beter resultate?
Ons almal wil graag meer in ons lewe hê of beter doen, verder gaan. Terwyl ons graag oorvloed wil geniet en daarna streef, dink ons eintlik meer aan hoe min ons het, hoe baie ons nog moet doen, waar ons te kort skiet. Waar God se lewensuitkyk een van oorvloed is, is die wêreld se lewensuitkyk eerder een van skaarste.
Maak dit vir jou sin? In die Ou Testament sien ons wat 'n lewensuitkyk van skaarste aan die mense doen. Hulle raak gierig, bang, angstig, jaloers, afgunstig, wreed, skelm - hulle moor en steel selfs - en begin leef net vir hulself. Dit is 'n lewensuitkyk van skaarste - 'n ekonomie van ek het nie; ek moet kry. Ek is arm; ek soek nog. Ek is ryk; ek moet vashou en beskerm sodat ek nie verloor nie.
Dink bietjie aan die Farao in die Bybel. Hy het 'n droom van skaarste gehad (Genesis 47) en was bang hy verloor aansien en status.
Hy het wreed en naar geraak toe hy agterkom die Israeliete raak al hoe meer en beveel dat alle babas doodgemaak moet word. Dit het God nie gekeer nie - babas is nog steeds gebore en die volk het steeds oorvloedig vermenigvuldig al was hul in slawerny. Farao jaag vir Moses en Aaron weg, maar hy vra tog 'n bietjie seen voor hy gaan. Die volk bevind hulself in die woestyn vir veertig jaar.
Wat vir hulle soos 'n tyd van skaarste voel, is toe eintlik 'n tyd van oorvloed. Die wonderwerk van manna daal vir veertig jaar uit die hemel uit. Manna beteken "Wat is dit?"
Dit was 'n wonderwerk! 'n Verrassing! 'n Geskenk waarvoor hulle nie moes werk nie! En dit was meer as genoeg om te eet. Klop die somme? Nee, dit maak nie sin nie - "it doesn't add up."
Sodra die volk begin versamel het en begin gryp het en vir hulself wou ekstra vat, het dit suur en sleg geraak. Die manna het die volk geleer om te deel en saam te werk. Moses stel 'n Sabbat in om te rus en te waardeer wat God besig is om te doen. Net soos in Genesis. Net soos in die storie van die brood en visse.
Waarom dink jy doen God sulke groot wonderwerke? Waarom gee Hy hierdie onverwagse geskenke aan die Israeliete, die blindes, die dowes, die lammes? God se oorvloed is om weer gelykheid te bewerkstellig. God se plan is dat almal moet deel in Sy goeie nuus en in die hulpbronne wat Hy vir ons gee. Dalk roep God jou ook tot stilstand om weer wonderwerkte te beleef.
Hou jy daarvan om geskenke te kry? Geskenke is wonderlik, want jy het dit nie verwag nie, het nie daarvoor gewerk nie, weet nie wat dit gaan wees nie (behalwe as jy spesifiek gevra het vir daardie nuwe kombuistoestel - haha).
Farao kon nooit 'n geskenk van oorvloed ontvang nie, want hy wou alles beheer, uitwerk en hussle. Wonderwerke is geskenke wat die Here ons gee om te sê: Stop. Kyk. Waarmee is jy besig?
Terug na Markus 6. Wie was die mense met wie Jesus die kos gedeel het? Gewone mense, baie mense, arm en honger mense.
Net voor hierdie wonderwerk, hou Herodes 'n uitspattige fees vir sy verjaardag - 'n verjaardag wat tot op die laaste letter beplan is. Hy sê vir sy dogter sy kan enige iets kry wat sy wil hê - en sy vra Johannes die Doper se kop op 'n skinkbord. Herodes se partytjie klink na 'n oorvloedige lewe... maar is dit?
Of is die vermeerdering van die brood en vis 'n oorvloedige lewe?
Herodes se partytjie is eintlik 'n plek van skaarste - 'n plek van vrees om mag te verloor, dink jy kan jou aansien en liefde koop en verdien.
Jesus se geskenk van brood en vis is 'n geskenk van oorvloedige liefde en genade. En die mense het oorgenoeg geëet. Hulle het saamgesit in groepies, gedeel en geëet.
Waar in jou lewe probeer jy alles in die fynste besonderhede uit te werk, maar laat geen ruimte vir God se geskenke in die vorm van wonderwerke om te gebeur nie?
Ons tel op en maak somme, maar God vermengivuldig. En dit wat jy vir God gee, dit vermenigvuldig Hy - jou tyd, jou geld, jou talente.
Kyk weer na Markus 6. Jesus het die brood gebreek, gedeel en die Vader gedank.
In plaas van vashou en optel en in vrees lewe... waar kan jy deel wat jy het? Wat kan jy deel? Dit begin by 'n gesindheid van dankbaarheid. Tel jou seeninge, nie jou geld of tekortkominge nie!
Waarvoor kan jy tans die Here in jou lewe dank? Wat het Hy vir jou gegee wat jy met ander kan deel?
Kyk bietjie na die hamster op 'n wieletjie. Ons doen dieselfde goed vir jare - ons werk op dieselfde manier, ons hardloop in dieselfde rigting, ons net gefokus op vorentoe en boontoe. Ons dink ons lewe 'n lewe van oorvloed.
Maar dis nougeset en skaars.
Met elke wonderwerk het God 'n stok in daai hamster wieletjie kom steek om weer gelykheid te bewerkstellig. Daar waar die Fariseers te wetties en hoogmoedig was, het Hy armsalige blindes kom genees om weer die orde van die samelewing te kom herrangskik.
God kom doen iets verrassends, nuut, verstommend - dalk is dit ook wat ons nodig het in ons gejaag na wind.
Lees 2 Kor 8:13-15. Wat beteken hierdie teks vir jou persoonlik? Waar moet jy ophou plus en minus, en eerder deel sodat God kan vermenigvuldig?
Dit maak nie sin nie, maar dis 'n wonderwerk! God kom gee waar jy tekort skiet! God vul die gate sodat daar weer gelykheid is onder mense.
Optelsomme maak sin vir mense met 'n "skaars" mentaliteit. Deelsomme (met mekaar) en maalsomme (waar God vermenigvuldig) maak sin in 'n lewe van oorvloed waar almal genoeg het, gelukkig is en saamwerk.
BID VIR:
* Waar moet jy laat gaan, nie meer bang wees, vashou, probeer uitwerk nie?
* Wat kan jy met jou huisgesin, vriende, kollegas, die kerk deel?
* Laat die Here toe om wonderwerke in jou lewe te laat gebeur.
Amen.
Ons is besig om deur 'n reeks te werk waar ons ons fokus op WONDERWERKE plaas.
Vandag gaan ons na een spesifieke wonderwerk kyk waar Jesus die blinde man genees en vir hom sig gee.
Bid saam, lees dan Johannes 9 saam deur.
Noem die dele van hierdie verhaal wat vir jou die meeste uitstaan.
Bespreek bietjie hierdie punte met mekaar.
Bespreek bietjie meer in diepte met mekaar alles wat van die blinde man bekend gemaak word in hierdie verhaal.
Plaas jouself in die blinde man se skoene. Hoekom sou die man dadelik gehoorsaam wees, en gaan was het, al weet hy nie dat Jesus die Messias is nie? Al weet hy nie dat hy daarna sal kan sien nie?
Hoekom is hierdie man blind gebore?
Wat dink die dissipels is die oorsaak van die man se blindheid?
Wat sê Jesus vir hulle?
Jesus sê in vers 5 dat Hy die lig vir die wêreld is. Bespreek hierdie woorde van Jesus met mekaar. Kyk of julle nog plekke in die Bybel kry waar Jesus sê Hy is die lig vir die wêreld.
Wat staan vir jou uit in hierdie deel van die verhaal? (Johannes 9:13-23)
Hoekom dink julle het die Fariseërs hierdie man so ondervra?
Hoekom het die man se ouers gesê: "21“Maar hoe hy nou sien, weet ons nie. En wie sy oë genees het, weet ons ook nie. Vra hom self. Hy is oud genoeg; hy kan vir homself praat.”?
Wat staan vir jou uit in hierdie deel van die verhaal? (Johannes 9:24-34)
Lees weer vers 24 tot 34 saam deur, en bespreek dit met mekaar.
Lees vers 35 tot 41 saam deur.
Wat is kenmerkend van hierdie deel van die verhaal? Bespreek dit met mekaar.
Dink saam oor fisiese blindheid en geestelike blindheid.
Wat is die verskil?
Wat is dieselfde?
Jesus het nie net hierdie man se fisiese blindheid genees nie. Jesus het sy geestelike blindheid ook genees...
- Eers sê hy net in vers 11: “Die man met die naam Jesus"
- Dan in vers 17 sê hy: “Hy is 'n profeet,”
- Dan sien ons hy sien vir Jesus, die Seun van die mens; Die Messias: "35Jesus het gehoor dat die Jode die man uitgeban het; en toe Hy hom kry, vra Hy vir hom: “Glo jy in die Seun van die mens?”
36Hy het geantwoord: “Wie is dit, Meneer, sodat ek in Hom kan glo?”
37Jesus het vir hom gesê: “Jy sien Hom. Dit is Hy wat met jou praat.”
38Die man sê toe: “Ek glo, Here!”
Die Fariseërs aan die anderkant het fisiese sig gehad, hulle kon sien, maar in die gees was hulle blind. Hulle kon nie vir Jesus as die lig vir die wêreld sien nie.
Jesus het ook ons geestelike blindheid genees. Ons kan Hom sien as die Messias.
As ons maar net kerk goedjies doen omdat ons moet, of omdat dit van ons verwag word, dan is ons eintlik maar blind, soos die Fariseërs blind was.
Maar as ons op Jesus vertrou en Hom sien as die geneesheer wat ons blindheid genees, dan sal ons sien, dan sal ons lewe.
Bid saam